Historiese terugblik


  • 1851 - Die gemeente Zoutrivier, later Hopefield, gestig
  • 1851 - Die plase rondom Langebaan word die "Baaiwyk" van die gemeente.
  • 1872 - Die "Baaiwyk" kry sy eie kerk in Langebaan geskenk deur Willem van der Byl.
  • 1984 - Die kerkie in Langebaan word Nasionale gedenkwaardigheid of monument.
  • 1984 - Die gemeente Hopefield besluit tot beroep tweede predikant vir die bearbeiding van Langebaan lidmate.
  • 1985 - Ds de Kock word beroep op 25 Januarie 1985.
  • 1987 - Lidmate van Langebaan wyk word gevra wat hulle dink van afstigting.
  • 1988 - Afstigting Langebaan word aan die Ring van Piketberg voorgelê.
  • 1988 - Langebaan word eie gemeente op 22 Oktober 1988 met 320 lidmate en twee predikante naamlik ds De Kock en ds Slabbert (kapelaan 4 verkenningsregiment)
Ds de Kock en Slabbert

Kerkraad met afstigting
  • 1990 - Begin met die bou van 'n nuwe kerk.
  • 1991 - Op 26 Februarie 1991 vind die eerste kerkdiens in die nuwe kerk plaas.  Hierdie diens word gehou vir die bouers van die kerk tussen vier mure onder die oop hemel deur ds. De Kock.  Hierdie dienste het begin vanaf 5 Februarie 1991, maar dit is die eerste binne die kerk. Die bybelgedeelte waaruit gepreek word is Ef 5:1-5.
So maklik vergeet:

DIE KERKGEBOU 


Die kerkgebou self het ook heelwat verander.  In 1923 is die konsistorie kamer aangebou.  In die tyd was dit so dat net elke kwartaal 'n diens hier gehou is en daar was nog nie 'n Langebaan kerkraad nie. Dit was in daardie tyd 'n gebeurtenis om kerk toe te gaan.  Die perde en waens is al vroeg ingespan en dit was vanaf Karnberg (baie naby aan Waschklip op die R27) 'n uur met kar en perde kerk toe.
Bo-op die koppie voordat jy Langebaan inkom, kon 'n mens al die stofwolkies sien van die ander spanne oppad kerk toe.  Vir die honde wat saam gedraf het. was dit ook 'n gebeurtenis. Dit was egter 'n probleem om hulle kerkbywoning te belet.
'n Plan is genaak en Mnr Sadie, die skoolmeester van die eenmanskool en self aangestelde verteenwoordiger en koster.  Die perde en waens is op die gronde van die hotel (die pienk hotel in Marra straat) uitgespan.
Vir die kinders was daar net so 'n paar klein probleme soos Mnr Sadie wat hulle honde verwilder, die spinnekoppe in die kerk en die penregop banke.

Die penregop kerkbanke
In 1927 is oorgegaan tot een diens per maand en in die jare sewentig word dit twee dienste per maand.  Eers in 1984 word besluit om 'n tweede leeraar vir Hopefield te beroep met opdrag met opdrag die bearbeiding van lidmate te Langebaan.
Behalwe die verbetering in dienste en bearbeiding is daar ook aan die gebou self van tyd tot tyd veranderinge aangebring.  Die voordeur was oorspronklik net so gevorm soos die vensters met 'n boog.  oor die voordeur was 'n yster sluitbalk met 'n hangslot, terwyl dit binne met 'n houtwerwel gesluit kon word.
Die pragtige lampe in die kerk kom van Hopefield.  Hierdie lampe was vroër in die Neethlingsaal. Dit was oorspronklik parafienlampe en is eers later in elektries verander.  Ongelukkig was daar tot 1986 van al twee krone een lamp kort.  Tannie Connie wat die orrel bespeel het het later twee lampe van Mev Truter gekry wie se man vroër onderwyser op Hopefield was.  na lang omswerwinge is die twee parafienlampe deur lidmate van ons gemeente gerestoureer en is by besonderse dienste as parafienlampe in gebruik. In 1955 is die twee pragtige kroonlampe  byna deur 'n antiek soekende predikant van die kerkraad gekry maar gelukkig is dit in die kiem gesmoor en het die lampe bly hang.
Die muur om die kerk is in die sestiger jare deur ouderling John Baard gebou.  Ook die banke het so effensse verandering ondergaan en leun daarom nou so effens geriefliker agter toe.
Die Venster ruite en die dik mure
Die venster ruite was in die ou dae van gewone glas en jy kon nog vrylik in en uit kyk. Toe die houtwerk begin sleg raak is die onderste dele vervang en van die teenswoordige glas voorsien. Die ou vensters kon altwee kante oopmaak en is binnekant met houtwerweltjies gesluit.

PREDIKANTE

Predikante wat nog deur tannie Connie onthou word is di. Neethling, Steytler, Brink, Alheit, Van der Merwe, Fourie, Beukes, Kriek, Emslie, Stofberg, Dippenaar en ons huidige predikant Ds Kobus de Kock.  Sy onthou ook die Kapelaan Ds Slabbert.

KOSTER

Voor 1966 is die kerkie skoongehou deur mnr Daantjie Albertyn wat dit tot sy dood in 1943 gedoen het. In 1966 het ook mnr Piet Swart dit gedoen.
Vanaf 1966 is die kerk vir 25 jaar skoon gehou deur mev. Elizabeth White.  In die begin was dit ook haar taak  om die lampe met lampolie te vul en te versorg waarmee haar seun gehelp het.  Die betaling hiervoor was in 1966 R1 per maand.

ORREL *(enige iemand met inligting, foto's of wat bewus is waar die traporrel vandag bewaar word kan ons gerus kontak)
Voorbeeld van 'n American Organ
Tannie Connie Basson het vir 50 jaar die traporrel (die eerste orrel) in die kerk bespeel en sy het nog goed onthou hoe hierdie orrel in 1937 gelyk het. Dit was 'n "American Organ" soos die voorbeeld hiernaas.

Die tweede orrel, ook 'n traporrel, was afkomstig uit die kerk van Laingsburg waar die pa van 'n suster van hierdie gemeente predikant was.
Alhoewel die orrel vir 'n bedrag van 40 pond gekoop was, is dit nooit genotuleer nie en het dit later tot 'n probleem gelei dat daar gedink is dat dit net geleen is. Na baie jare is die orrel ook terug geeis en dan ook uiteindelik teruggegee.

Die derde orrel was regtig 'n skenking wat duidelik deur die plaatjie op die orrel getoon word.  Hierdie orrel is nie meer in 'n werkende toestand nie en word in veilige bewaring in die Klein Kerkie gehou.



KAS ONDER PREEKSTOEL




In 1990 is besluit om die kas onder die preekstoel oop te maak en binne-in was ou kerkalmanakke van Hopefield wat terugdateer na 1951.  Daar is klaarblyklik weer alamanakke gebêre vir die volgende geslag.  (Ons wil graag die tradisie voorsit maar die sleutel van hierdie kas is verlore.  As iemand dalk hierdie sleutel het kan u gerus dit vir ons by die kerkkantoor indien)












EERSTE HUWELIKSPAARTJIE

Die eerste huwelikspaartjie sover bekend was nie 'n lidmaat van die kerk nie en was glo 'n Joodse prokureur wat deur Ds Fourie in die huwelik bevestig is.




No comments:

Post a Comment

KULTUUR HISTORIESE NG KERK, LANGEBAAN